[Company Logo Image] 

Home

Geskiedenis
 

[Under Construction]

Home
Beheerliggaam
Visie en Missie
Geskiedenis
Dokumente
2010 Kalender
WebNuus
Fotos
Ons Borge
Inhoud


'N HISTORIESE OORSIG (Bron: Awie & Hester Smit)

Ons skool het ontstaan uit die destydse Wilgehof Volkskool, wat se deure op 20 Januarie 1954 geopen het.  Die eerste hoof was Mnr. A.E. Viljoen.  Hy het slegs waargeneem as hoof.  Hy was onder andere die Burgemeester van Bloemfontein en het die skool-lessenaar, wat hy gebruik het, aan die skool geskenk.  Dit is tans op uitstalling in die Hoërskool se voorportaal.

Die hoof vanaf 1955 was Mnr. P.W. du Plooy.  Gedurende 1957 is die permanente geboue ingewy deur die destydse administrateur, Mnr. Jim Fouchè. 'n Nuwe Hoërskool, met die naam van Hoërskool Jim Fouchè, is intussen beplan en gebou.  Wilgehof sou dan net tot standerd vyf gaan, om sodoende die Laer en Hoërskool te skei.  Op 21 Januarie 1959, is die deure van die Hoërskool amptelik geopen, met Mnr. du Plooy as hoof. Mnr. P.J. Jooste sou tydelik waarneem as hoof by Wilgehof Volkskool.  Gedurende hierdie tydperk groei die skool se getalle geweldig, selfs nadat die Hoërskool op sy eie is, staan die getalle in Maart 1959 op 949. Mnr. Enslin van Wilgehof-Wes wyk, is genader om die bou van 'n skool daar te bespoedig, aangesien die getalle van Wilgehof hande uitgeruk het.

Gedurende 1961 is die skool wat in Hospitaalpark gebou is, voltooi en is Sand du Plessis Primêr op 4 April 1961 geopen, met onder andere bruidskat van meubels, 'n juffrou, boeke, kontant en 120 leerlinge.

Op 17 Januarie 1962 is Wilgehof-Wes Primêre skool geopen met 351 leerlinge.  'n Groot deel van die getal het vanaf Wilgehof Volkskool gekom om so verligting te bring aan dié oorvol skool, wat se getalle toe op 1207 gestaan het.  Die waarnemende hoof was Mnr. P.J. Jooste en hoof by Wilgehof Volkskool was Mnr. S.G. Pretorius.  Vir die volgende 10 jaar sou die skool, Wilgehof-Wes, van krag tot krag gaan.  Vir die tiende verjaarsdag van die skool, is daar besluit om die huidige ingangshekke in Lavenderstraat op te rig.  Nadat daar op die skoolkommissievergadering vrae gevra is, oor wat op die hek geplaas moes word, is op 10 Junie 1971 besluit om die skool se naam te verander na Primêre Skool Jim Fouchè.  Hierdie besluit is geneem as gevolg van die herkoms van die skool, asook die goeie bande tussen die Primêre en Sekondêre skool.  Hierdie besluit is deur beide die skole se kommissies, personeel en ouers verwelkom.

Hierdie voorlegging is aan die onderwysdepartement voorgelê.  Op 14 September 1971 is berig ontvang, vanaf die departement, dat die naam amptelik Primêre Skool Jim Fouchè sou heet.  Die tienjarige feesvierings het dus gepaard gegaan met die inwyding van die ingangshek, nuwe naam, kleure en embleme.  Die naam Primêre Skool Jim Fouchè, bestaan dus amptelik vanaf 14 September 1971.

 

NAAM VAN DIE SKOOL

Nadat dit bekend geword het in 1956, dat 'n Hoërskool gebou gaan word om die Laer- en Hoërskool Wilgehof te skei, het Mnr. P. Aucamp met die voorstel gekom dat die nuwe Hoërskool na die destydse administrateur vernoem moes word nl. Jim Fouchè.  Op 14 September 1971 het die Departement van onderwys toestemming verleen om die naam van die destydse Wilgehof-Wes te verander na Primêre Skool Jim Fouché.  Vandag dra ons skool die trotse naam van die voormalige Staatspresident Jim Fouché.

 

SKOOLLIED

Mnr. Du Plooy het terselfdertyd aan almal gevra om te help skryf aan 'n skoollied vir die nuwe skool.  'n Dag later het hy sy poging, onder die skuilnaam van D.F. Malherbe, op die swartbord geskryf.  Die personeel se uitspraak was dat die digter 'n mooi stuk werk daargestel het.  Trots het hy D.F. Malherbe se naam uitgevee en vervang met syne.

 

JIM FOUCHé-SKOOL, JY IS VIR MY

BEELT'NIS VAN ONS ERF'NIS, MOED EN TROU

EN VAN ONS STRYD TEEN DWINGLANDY

OM STEEDS TE HANDHAAF EN TE BOU.

 

DEUR SONSKYN DAE EN DONKER NAGTE,

WANNEER ONS VOLK DAN LAG, DAN ROU,

SPREEK UIT ONS WESE EEN GEDAGTE:

SAAI OM TE OES VIR JOU

 

ONS LEUSE - SAAI OM TE OES.

As hoof van Wilgehof Volkskool het Mnr. Du Plooy se vrou, nadat hy by sy broer gekuier het en nadat hulle lank op die saaigedagte gebroei het, vorendag gekom met die leuse - "Saai om te Oes".  Die leuse is saamgestel uit Matt. 13:3-8 waar ons lees:

"'n Saaier het uitgegaan om te saai ... ."  In vers 8 lees ons:  "'n Deel het op goeie grond geval en vrug opgelewer - een honderd - die ander sestig - die ander dertigvoudig."

Die hoofsaak van elke vers is verbind, naamlik saai en oes.  Dus "Saai om te Oes."

 

DIE SKOOLKLEURE, WAPEN EN BETEKENIS.

Die kleure dateer reeds vanuit 1954 toe die ou Wilgehof skool ontstaan het.  Dit is beplan deur mevrou Du Plooy en word as volg verklaar:  Wilgehof kom van die wilge wat GROEN is;  heraldies moet die agtergrond van 'n wapen altyd SWART wees;  in 1954 vind die eeufees van die Oranje-Vrystaat plaas, vandaar die ORANJE;  en die WIT rondom die wapen en op die geopende boek, simboliseer die reinheid, opregtheid en getrouheid.  Die wapen bestaan dus ook uit die bogenoemde twee stukke inligting se samevoeging, nl. Die saaier op oranje, die gerwe op groen, wat die oes verteenwoordig en die geopende woord op swart, wat Matt. 13:3-8 verteenwoordig en terselfdertyd dui dit op die ontginning van kennis.

 


 

[Home] [Beheerliggaam] [Visie en Missie] [Geskiedenis] [Dokumente] [2010 Kalender] [WebNuus] [Fotos] [Ons Borge] [Inhoud]

Stuur 'n e-pos na paul@meritus.co.za met vrae of kommentaar omtrent die webwerf.
Kopiereg
© 2010 Primêre Skool Jim Fouché
Nuutste modifikasie: 10-Mar-2010