|
SUID-AFRIKAANSE SKOLEWET 84 VAN 1996
[GOEDGEKEUR OP 6 NOVEMBER 1996] [DATUM VAN INWERKINGTREDING: 1 JANUARIE 1997]
Uitreksel oor Beheerliggaam van ‘n skool uit die SASW
“[w84j1996a16]16 Beheer en professionele bestuur van openbare skole
(1) Behoudens hierdie Wet setel die beheer van elke openbare skool in sy beheerliggaam en mag dit slegs sodanige werksaamhede en verpligtinge uitvoer en slegs sodanige regte uitoefen soos deur die Wet voorgeskryf.
[Sub-a. (1) vervang by a. 2 van Wet 57 van 2001.]
(2) 'n Beheerliggaam staan in 'n vertrouensposisie teenoor die skool.
(3) Behoudens hierdie Wet en enige toepaslike provinsiale wet, moet die professionele bestuur van 'n openbare skool deur die prinsipaal onder die gesag van die Departementshoof onderneem word.
(4) Die Departementshoof kan 'n openbare skool in geval van nood tydelik sluit indien hy of sy op redelike gronde glo dat die lewens van die leerders en die personeel in gevaar is of dat daar 'n wesenlike gevaar van liggaamlike leed aan hulle of beskadiging van eiendom bestaan.
[Sub-a. (4) bygevoeg by a. 9 van Wet 48 van 1999.]
(5) Wanneer die Departementshoof besluit dat die skool moet heropen, moet hy of sy die beheerliggaam en die prinsipaal in kennis stel van die datum waarop die skool moet heropen.
[Sub-a. (5) bygevoeg by a. 9 van Wet 48 van 1999.]
(6) Die prinsipaal of 'n persoon deur die Departementshoof aangewys, moet die opvoeders en die ouers in kennis stel van die datum in subartikel (5) beoog.
[Sub-a. (6) bygevoeg by a. 9 van Wet 48 van 1999.]
(7) Indien 'n nuwe openbare skool ingevolge artikel 12 voorsien word, setel die beheer oor dié skool in die Departementshoof totdat 'n beheerliggaam ingevolge hierdie Wet saamgestel is.
[Sub-a. (7) bygevoeg by a. 3 van Wet 53 van 2000.] ”
|